Landsdiens Nasionaal 2024 Gr.8 + 9
Die kamp is hierdie jaar in die Noord-Kaap by Duin in die Weg naby Grootdrink aangebied. Ongeveer 200 leerlinge en onderwysers van oral in die land het hier in die Noord-Kaap saamgetrek waar verskillende projekte en aksies deur hierdie leerlinge gedurende die week uitgevoer moes word.
Een element waaraan aandag gegee was is om handvaardighede by leerlinge te kweek en daarvoor is Kalbas Padstal genooi om die verf en die kalbassies te verskaf en ‘n demonstrasie te gee hoe om dit te verf en te versier.
Meeste van ons is bewus van die beweging, maar sover my kennis strek, word dit nie by skole in ons gebied aangebied nie.
Die Landsdiens is 'n omgewings gerigte jeugbeweging wat vir almal toeganklik is. Hulle streef daarna om die liefdes vir die natuur, sowel as die beskerming van die omgewing by die jeug te kweek en om die natuurlike hulpbronne te verbeter. Die beweging fokus op die holistiese ontwikkeling van die jeug en die pilare waarop dit gevestig is, is ‘n liefde vir ons Skepper, die medemens en die natuur.
Net leerlinge met die hoogste punt totaal vir die jaar in elke provinsie kon hierdie kamp bywoon. Positiwiteit en goeie maniere het hierdie groep gekenmerk en vir ons by Kalbas Padstal was dit ‘n voorreg om ‘n baie klein bydrae te maak. Bygaande foto’s bevestig dat die jongklomp dit geniet het en die onderwysers en studente wat saam met die groep was, het ten volle uiting aan hul kunstalente gegee.
Ons wens julle net sterkte toe op jul pad vorentoe.