Die eerste huise in Upington area

Rupert het eenmaal gesê dat geboue die mylpale in ‘n volk se geskiedenis is en dit is ook so. ‘n Reeks strukture so op ‘n ry, sê van ‘n Boesmanskerm aan die een kant tot ‘n geometriese kerkgebou aan die ander kant, sou ‘n leersame vertoning wees van die ontwikkeling en vooruitgang hier langs Grootrivier.

In sy memoirs skryf Borcherds van Koranahutte as “circular huts of twigs” terwyl Barrow weer praat van “hemispheres six feet high and eight feet in diameter made of bushes and coarse grass”. 
Nama-hut voorbeeld
Ander verwysings dui daarop dat die Koranavrouens soms matte van biesies gemaak het en dat riethutte ook A-vormige strukture was. Heelwaarskynlik was die Koranahut meerendeels halfmaanvormig en gemaak van pale en enige beskikbare materiaal. 

Die Korana was lui en onwillig om te werk en hy sou met ‘n woning nie baie moeite doen nie. Met Schröder se aankoms was hier sowat 30 hutte op Upington in die omgewing van die sendingkerk en af na die padbrug. 

Schröder verwys na sy eerste pastorie as “een armoedig matjieshuis” of “een luchtig matjieshuis” terwyl sy kerk “een rietstyger” was waaronder die bokke ook bedags geslaap het.

Die eerste gebou hier langs Grootrivier was Stephanus se tempel by Blousekop. Stephanus het man, vrou en kind aangesê om te help. Waarskynlik het hy daar in Calvinia se wêreld gesien hoe die voorste boere klipkrale bou en hy het dan ook net plat klippe opmekaar gestapel met rivierslik as bindingsmateriaal. 

Waarskynlik was die dak slegs ‘n paar pale met latte, riet en bossies bo op. Geen datum is bekend nie, maar die afleiding kan gemaak word dat Stephanus hierdie tempel tussen 1801 en 1805 opgerig het.

Die tweede gebou in hierdie omgewing was eerw. Sass se kerk by Bethesda naby Louisvale. Sass was hier omtrent van 1808 tot 1821 en sy kerk was gebou van klip en klei en volgens verwysings sowat 15 x 6,5 meter en 3,5 meter hoog. Dit moet aanvaar word dat Sass die klippe met sy ossewa aangery het. 

Oorblyfsels dui daarop dat dit ‘n redelike netjiese gebou moes gewees het. Volgens oorvertellings het Hawkes baie van hierdie kerk se klippe weggery om sy damwalle by Kanoneiland te bou.

Die eerste gebou aan die noorde kant van die rivier was Schröder se tweevertrek pastorie. Waar hierdie huis gestaan het, is onbekend en al bekende verwysing is dat hierdie huisie aan Schröderstraat se kant van die kerk gestaan het. 

Waarskynlik was dit van rou stene gebou “weens het verdriet om met die Koranas te arbeiden”. Op 9 Desember 1872 was die huise byna klaar en op 10 Maart 1873 was dit al bewoonbaar ingerig. Oor die bou van die tweede woonhuis is min bekend.

In 1875 het Schröder wel genoem dat hy ‘n beter woning sal moet bou en dit kan slegs aanvaar word dat hierdie huis na voltooiing van die kerk in 1875 aangepak is. Volgens oorvertelling het die huis nie veranda gehad nie, maar wel ‘n kleistoep wat met mis gesmeer was.
Die Schröder-kerk vandag - Tuise van die Kalahari-Oranje Museum
Die Schröder-kerk was die tweede gebou op die teenswoordige Upington. Volgens sy briefwisseling is die eerste steen gelê op Maandag, 9 Maart 1874 en die inwydingsplegtigheid was bepaal vir 11 September 1875. Die binnemate van die kerk is aangegee as 65 x 25 voet (19.8 x 7,6m) en omdat daar na die vloed ‘n goeie koringoes was, noem hy dat hy genoeg dekstrooi vir die kerk sou hê. 

Met die Korana-oorlog skryf Schröder dat die woonhuis en kerk se ruite en lampe stukkend is en op 9 Desember 1882 skryf eerw. Schonken dat hulle die kerk binne en buite moes afwit en dat hulle gekleurde ruite en hanglampe aangebring het. 

Die kerk het ‘n kleivloer gehad, moontlik met mis gesmeer, asook kleibanke. Volgens oorvertelling het die banke in twee rye gestaan met ‘n paadjie tussenin. Die banke, sonder leunings, was van stene gebou met klei opgevul en finaal met mis en klei afgewerk. Op 16 Julie 1890 is met die vergroting begin en met die verbouing is ook ‘n houtvloer aangebring. In een brief noem Schröder dat hy besig is om 80 houtbanke te maak.

Blanke pioniers was trekboere en toe pagplase langs Groot rivier beskikbaar geword het, is veral in hartbeeshuise en paalhuise gewoon. ‘n Paalhuis soos die naam aandui was van pale met klei en mis gepleister terwyl die dak gewoonlik van riet was. 

Die hartbeeshuis se mure was van riet en dwarslatte en ook met klei en mis gepleister terwyl die dak van riet, strooi of duingras was. Die naam hartbeeshuis verwys nie na ‘n boksoort nie, maar is afkomstig van die gebruik van ‘n harde biesie, in die volksmond hardbies en later  hartbees. 
Hartbeeshuis voorbeeld van die weskus
Pleisterklei was ‘n mengsel van vier dele klei en een deel beesmis wat eers ingesuur en deeglik deurgewerk is. Wanneer die klei (wat van onder af opwaarts gepleister is) droog word en bars is die mure weer met ‘n beesmisflodder oorgegaan om alle barsies te vul. 

Die vloere was ook van klei, veral miershoop, en die vloere sowel as die klein stoepie was met beesmis gesmeer. Buite was die kookskerm en bakoond.

Die eerste muurhuise was van rou stene of klei en klip. Dit moet onthou word dat die naaste spoorwegstasie eers De Aar en later Prieska was, en goedere is met transportwaens vervoer en dus was boumateriaal ‘n luuksheid. Die tipiese muurhuis was een lang drievertrek woning met ‘n kombuis, voorhuis en slaapkamer en natuurlik ‘n platdak van pale, riet en klei. 

Volgens die aantal kinders is stoepkamers aangelas, een aan elke kant met ‘n rietverandah tussen-in. Die kookskerm en buite-oond het behoue gebly, maar ‘n kaggel se skoorsteen het ‘n deel van die kombuis geword. Met die koms van sinkplate op die dak, nog steeds ‘n platdak, is die bakoond van buite met die kaggel verbind en vandaar die mooi benaming abba-oond.

Sinkplate is omstreeks 1835 deur die Londense ingenieur James Walker ontwerp en teen 1850 het dit Suid-Afrika bereik. Wanneer die eerste dakplate die Oranjerivier bereik het, is onbekend, maar met Farini se besoek aan Upington in 1885 het hy veral na mnr Scott se huis verwys en as ‘n spesiale magistraat kon sy huis moontlik al ‘n sinkdak gehad het. 

Volgens oorvertelling deur mnr Douw Steyn is die ou woonhuis op De Hoop (Straussburg) een van die oudste muurhuise in die omgewing wat nog op die ou basiese patroon gebou is, eers net ‘n lang drievertrek woning, daarna is twee stoepkamers aangebou en teen 1906 is die rietverandah met ‘n sinkdak vervang en later is die hele dak vervang. 

Saam met die sinkdak het versierings bygekom: die trapvormige muurtjie om die plate vas te hou was ‘n perrepit (van Engels parapet) en daklyster, deurlyste en versterlyste is aangebring as versierings. 

By die vier hoeke van hierdie huis is ook snye (vertikale slootjies) as ‘n versiering aangebring. Volgens mnr Attie van Niekerk was sinkplate al welbekend in 1900 en hy onthou dat messelaars rondgegaan het om huise te bou en hulle het die versierings aangebring. 

Volgens mnr Van Niekerk was beligting by wyse van hardevetlampe en vetkerse. ‘n Pit van linnelap is gedraai en het in ‘n oop blikkie gehang wat met warm hardevet gevul word en as die vet hard is, is die lamp gereed. Kerse is nie net met kersvorms gemaak nie, maar die pit is ook in warm hardevet gehang en weer uitgelig totdat die vet met alternatiewe uitlig en indruk tot die vereiste dikte aangepak het. 

By die ouer huise langs die rivier kon nie juis van ‘n boustyl gepraat word nie, maar wel van ‘n pionierspatroon, ‘n patroon van kombuis, voorhuis en slaapkamer en dan een of meer stoepkamers, maar sonder ‘n gang. 

Verandaplate was twee tipes, eerste gegolfde of kromplate en daarna die stompneus of osneus. Hierdie plate was populêr omdat dit ‘n nuwigheid was en dit die minimum houtwerk vereis het. Omdat dakplate met transportwaens vervoer moes word, moet dit die maksimum dekking gee en sulke huise het geen oorhang by die gewels gehad nie.

Na die Ango-Boereoorlog het ‘n verandering ingetree. In plaas van selfbou het bou-aannemers na vore gekom met ornamentele hout- en ysterwerke. Oor die algemeen is die pionierspatroon egter behou.

Dit was eers na die rebellie van 1914/15 dat die omwenteling gekom het. Die treinspoor het vir Upington bereik en bou benodigdhede was bekombaar. Die voorkoms van dakke het verander, beton pilare het verskyn asook uitgeboude vensters (erkers, Engels bay windows). 

Die dakke van hierdie periode word veral getipeer deur die diamant- of wolfdak en saam hiermee het die ventilators verskyn. Op Upington is dit veral interessant om te kyk na die groot verskeidenheid van ventilators. Bejaardes vertel nog hoe hortjievensters (Frans louvres) die nuwigheid was.

Die Kaaps-Hollandse gewels was veral populêr oor die jare 1930/40. Dat hierdie gewels tot ‘n modegril ontwikkel het, word bewys deur die groot verskeidenheid van gekrulde gewels wat op die dorpe gebou is.

Dit kon nie duidelik vasgestel word van watter jaartal gange in woonhuise die oorhand begin kry het nie, maar alles dui daarop dat dit saamgaan met die bekombaarheid van dakplate en die verandering van dakstyl. 

Toe die gang ingekom het, het die posisie van die stoepkamer verander en saam hiermee het die veranda van vorm verander. As gevolg van die somerhitte bly ‘n veranda ‘n baie belangrike item by enige huis langs Grootrivier. 

En toe kom die motor, sê teen 1930. Eers is die waenhuis na ‘n motorhuis verander en daarna het die motorhuis ‘n deel van die woonhuis geword. Teen omstreeks 1940 het die perdekar heeltemal verdwyn.

Behalwe vir die kort periode toe Hollandse huise so populêr was, het die wolfdak die boustyl oorheers tot so laat as 1970 toe bou-aannemer Boet du Plessis met ‘n nuwigheid gekom het wat as ‘n Spaans-Morokaanse boustyl beskryf kan word en aan woonhuise ‘n nuwe voorkoms verleen.

Op kerklike gebied wys geestelike leiers gewoonlik daarop dat die Opperwese nie afgeskeep mag word nie en daarom is kerkgeboue so dikwels ‘n finansiële las op gemeentes. Uit die argitektoniese oogpunt moet erken word dat kerke gewoonlik deur erkende argitekte beplan word en die sierade van plattelandse dorpe uitmaak. 

In orde van indrukwekkendheid moet genoem word die Rooms Katolieke Kerk, die NG Moederkerk en die NG Ooskerk op Upington. In terme van die estetiek staan die NG Kerk van Keimoes bo aan die lys. 

Die Keimoes kerk aan die voet van die heuwel, en met sy kerkboom oor die straat wat vertel van die griepjare, roep in nederige skoonheid tot God. Die kerk van binne is nie luuks nie, maar die preekstoel van eie olienhout vertel dat hierdie mense en hierdie gebou hier hoort. In teenstelling met die Gotiese atmosfeer is Ooskerk met sy geometriese patroon ‘n uitbeelding van eietydse siening.

Die Roomse Kerk op Upington met sy kasteeltoring en treffende verdedigende borswering gee die indruk van verdediging teen aanvalle van buite. Van binne is die gebou ‘n pragbeeld van Gotiese boë en lansetnisse.

Die NG Moederkerk met sy stutmure en spits torinkies van Gotiese herkoms verbind die verlede met die hede. Ossewaens, volkap en halfkap, het by Malonie se draai (die draai van die voor by Bassonspark) uitgespan en kerkgangers wat geen ander tuiste gehad het nie, het hier by hulle waens in tente gebly. 

Ander waens het eers ‘n draai in die dorp gemaak waar nagmaalgangers hulle benodigdhede eers by tuiskamers afgelaai het. Die mense het kerktoe gestap. Hierdie gebou het feitlik die hele blanke bevolking noord van Grootrivier bymekaar gehou en vandag nog toon die ou moeder geen tekens van ouderdom nie. Fier en vorstelik het sy die toets van die tyd deurstaan.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings:
https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/hoe-het-die-voortrekkers-n-bootvormige-hartbeeshuis-gebou-pleisterwerk/