Die Brulsand van die Witsand Natuurreservaat

 
Dit is eksperimenteel bewys dat geronde sandkorrels, wanneer dit geskud word, ‘n dreungeluid maak en dit is ook wat by die brulsand gebeur.

Die plaas Witsand lê net Wes van die Langeberge sê sowat 40 km Noord van Vollop. Die eienaardigheid is die dreuning wat veroorsaak word wanneer die sand teen ‘n duin geroer word en dan natuurlik ook die kol wit sand in die andersins rooi Kalaharisand. 
Hierdie wit duine is hoër as die omliggende rooi sand. In die wit sand kom ook geel en swart sand voor. By behandeling met soutsuur word die gekleurde sand wit wat daarop dui dat die kleur toegeskryf moet word aan ‘n mikroskopiese lagie van yster verbindings. 

Waarskynlik is daar genoeg bikarbonate in die water om die gewone rooi Kalaharisand wit te maak. Onder die mikroskoop is die sand kenmerkend in die volgende opsigte:
  • Die korrelgrootte wissel van relatief grof tot fyn.
  • Die graad van afronding wissel van heeltemal ronde korrels waarvan net die randjies afgerond is.
  • Die korrels is feitlik sonder uitsondering gepoleer tot ‘n gladde oppervlakte.
Onder sulke toestande behoort die korrels met roering maklik bymekaar verby te glip en die gesamentlike skuurgeluid kan as ‘n dreungeluid gehoor word. ‘n Delikate graad van vogtigheid is egter belangrik – geheel droë sand of klam sand dreun nie.

In die wit duine kan die sogenaamde pypies gesien word. Die duine is hoog en waterryk en vorm dus ‘n goeie aantrekkingspunt vir weerlig. Die klam plantwortels gelei die strale en sandkorrels om ‘n wortel smelt eenvoudig. Die pypies is fulguriete of bliksem buisies en word herken aan die gladde binnekant en die swart vlekke wat deur die koolstof veroorsaak word.

Die rykheid aan water in ‘n andersins droë omgewing is nog onverklaarbaar. Die oorsaak mag teruggevoer word na ‘n oop vulkaniese krater onder die sand, maar daar mag ook ‘n natuurlike keerwal en holte wees om ‘n ondergrondse dam te vorm wat van die berge gevoed word. 

As daar nie water was nie sou die wit sand ook nie daar gewees het nie. Die vogtigheid help met die ophoping van sand en die oplosmiddel in die water verwyder die kleurlagie om die sandkorrels. In hierdie opsig is dit dan ook interessant om te noem dat in die Noenieput omgewing die ou lope van die Moloporivier ook deur wit sand aangedui word.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.