Dadels, Sultanas & Kakamasperske van die streek

Daar is die dinge wat jy nie weet nie, dan is daar die dinge wat jy weet maar nie verstaan nie, dan is daar die dinge wat jy nie verstaan nie maar dit maak ook nie saak nie; die vraag is dan nou wanneer is dinge belangrik genoeg vir jou om te probeer verstaan, want as jy verstaan sal jy weet en as jy weet sal jy waardeer. Wie ore het om te hoor laat hom hoor, en wie oë het om te sien laat hom sien.

Dadels
Tot enkele jare gelede was Kakamas die grootste dadelproduserende gebied in Suid-Afrika. Met die ontwikkeling van die plantasie te Henkries in Namakwaland het Kakamas na die tweede plek verskuif. Die 1974- vloed het aan die dadelbome van Kakamas ‘n harde knou toegedien.

Dit het soms gebeur dat wanneer ‘n groot stuk werk voltooi is elke werker ‘n pond dadels ontvang het. Van hierdie weggooi pitte het dadelbome oral rond op Kakamas gegroei en die bewys gelewer dat die dadelpalm goed aard. 

Met die aanstelling van JW Lou as Superintendent het hy hom veral beywer om brak gronde te benut en in 1924 het hy aan erfhouers 40 pond pitte uitgedeel om op brak gedeeltes te plant en hy het self ook op twee morge geplant. 

Op die gedeelte van die plaas Bobbejaankrans waar een erf te brak was om uit te gee het hy pitte en ook suiers van Pella geplant. Hierdie sou later die eintlik welbekende dadelplantasie word. Op Neuseiland het hy ook aan Abraham Coetzee pitte gegee en dit as voorwaarde aan latere huurders gestel dat hulle die bome moes versorg.

In 1932 het die landboukundige Gutsche op Schröder (Bassondrif) sowat 100 bome geplant wat van Nelspruit afkomstig was. Met die swaar ryp en droogte van 1939 het hiervan slegs 58 bome oorgebly, maar die dadels was van ‘n gesogte kwaliteit.

Navorsing het sedertdien getoon dat dadelbome in baie brak grond kan groei met selfs so hoog as nege persent sout in die boonste 150 mm laag, hoewel die wortels eintlik nie meer dan twee persent sout verdra nie. Dit beteken dat die wortels deur die boonste baie brak grond na dieper, minder brak grond groei solank daar maar net genoeg water is. 

Die dadelboom kan ook ‘n baie wye temperatuurverskil weerstaan, so hoog as 52˚C en so laag as -16˚C, maar met blomtyd kan ‘n lae temperatuur en veral ryp baie nadelig vir die blomme wees. Dadelpalms is natuurlik eenslagtig en bome van pitte geplant neem vyf tot ses jaar voordat hulle wys of hulle mannetjies of wyfies is en daarom word suiers van wyfiebome afgekap en geplant. 

‘n Suier lewer dieselfde kwaliteit vrug as die moederboom en die prosedure is dan ook om elke boom se dag dadels te weeg en die suikergehalte te bepaal en dan slegs suiers van die beste moederbome te gebruik.

Suid-Afrika voer sowat 2 000 ton dadels per jaar in. Die brak gronde langs Grootrivier wag nog om beplant te word.

Sultanas

Sowat 90 persent van Suid-Afrika se sultanas kom van die Benede-Oranje en die SAD se fabriek by Louisvaleweg (Upington) is van die modernste ter wêreld. Van die sowat 12 000 ton sultanas wat jaarliks hier verpak word, word sowat 8 000 ton uitgevoer na Brittanje, Duitsland, Japan, ens. (vir 1983).

Hierdie sultanabedryf met sy byna onbeperkte moontlikhede (vandag ook in die wynbedryf) het by Kakamas begin. In samewerking met mnre Cilliers en Conradie het AS Brink in 1918 stokkies uit Robertson gekry en ingelê. Die gewortelde stokkies het hy die volgende jaar op Schröder geplant.

‘n Besoeker ry vandag met die gruispad oor die treinspoor tot op die heuwel regoor die skool en onmiddellik suid, voor die woonhuis daar is die wingerd waar die eerste sultanas van die Benede-Oranje geoes is. Met die eerste oes was die Kommissie eintlik raadop totdat dit deur bemiddeling van mnr Piet Cilliers aan die SA Droëvrugtekorporasie gestuur is. So het die sultanawiel aan die rol geraak en in 1974 was hier langs die Benede-Oranje al 6 700 ha onder sultanas.

"DIE" Kakamas Perske
‘n Mens ry deur die dorp en by die waterwiele verby en nog ‘n paar kilometers na die huis van wyle mnr Piet Janse van Rensburg. Agter sy huis, waar nou wingerd groei, het die beroemde boom gestaan, die boom wat die beste inmaakperske in Suid-Afrika gelewer het. 

Die storie word soms vertel dat ‘n verdwaalde perskepit met vloedtoestande daar sou geland het. Piet van Rensburg het ‘n ander verhaal vertel. Sy vader was ‘n verarmde veeboer wat op Kakamas kom inval het en soos dit die gewoonte was het hulle maar oral pitte en boompies versamel. 

In 1926 het sy vader vir hom ‘n klomp pitte gee om te plant en die volgende jaar het hy ‘n boord van sowat 45 perskebome uitgeplant. Die meeste hiervan het, soos hy dit genoem het, sommer suur perskes gedra, maar ses van die bome het mooi vrugte gedra en veral een van die ses het uitsonderlike mooi perskes gelewer en huisvroue het veral van hierdie boom se perskes kom haal vir inmaak. 

Die waarde van hierdie boom sou later weerspieël word in die woorde van Dr Marias waar hy sê dat daar in 1933 nog geen ingemaakte perskes uitgevoer is nie, terwyl daardie seisoen 1970/71 in Wes-Kaapland alleen 120 452 ton perskes ingemaak is waarvan die Kakamas meer as die helfte bygedra het.

Die behoefte aan ‘n geskikte inmaakperske was so groot dat dit aan Professor Reinecke van Stellenbosch opgedra is om iets te doen. Reinecke het in drie rigtings gedink. Eerstens kon perskebome ingevoer word, maar dit was ‘n groot vraag of sulke bome by ons klimaat toestande sou aanpas. 

Tweedens kon die ideale perske uit die Transvaalse geelperske geteel word, maar so ‘n teelproses kon vyftien na twintig jaar in beslag neem. Derdens was daar die geringe kans dat daar tog iewers in die land ‘n geskikte perske bestaan. 

Die professor het begin deur aan al sy oudstudente te skryf en een van hierdie briewe was gerig aan AD Collins die Landbou-onderwyser te Kakamas. Die vernaamste vereistes was dat die perske geel moes wees tot by die pit, ‘n goeie smaak en grootte hê en dat die boom ‘n goeie draer moes wees. Monsters moes dan aangestuur word en mnr Hugo van die Western Province Preserving Company sou al die monsters wat ontvang word inmaak.

Volgens mnr Van Rensburg het mnr Collins van hierdie boom geweet en het hy dan ook opgedaag met ‘n vorm wat ingevul moes word en die later bekende monster nr 29 is weggestuur. Mnr Hugo het finaal sowat veertig monsters ontvang en ingemaak en na Stellenbosch gestuur vir beoordeling.

Die toetspaneel het uit sewe persone bestaan: twee dames van die Universiteit se Huishoudkunde Departement, vier huisvroue met goeie ondervinding en mnr Wright van Jones en Kie, Paarl. Van die sewe stemme het vyf vir nr. 29 eerste geplaas. Prof Reinecke self het gemeen dat sover dit geur en voorkoms aanbetref nr. 29 die beste perske is was voorgelê is. 

Die soektog het voortgegaan, maar ‘n beter perske kon nie gevind word nie. so is mnr Collins dan gevra om kweekhout aan te stuur en vanaf 1934 tot 1973 was daar al 1 650 000 Kakamas-bome gekweek en omtrent net soveel dogterbome. Mnr Collins is vereer deur dit die “Collins Cling” te noem, maar hy het voorgestel dat dit liewer die “Van Rensburg” genoem moet word. Daar was alreeds ‘n perske onder hierdie naam en so is dit dan op die naam “Kakamas” besluit.

Oor die boom het Piet van Rensburg so gesê: “Nee wat, hier op Kakamas groei die bome te wild, hulle word glad mal kan ‘n mens sê. Die boom het homself uitgewoed en begin doodgaan”. Die boomstam is deur mnr Collins aan die Langeberg Koöperasie gestuur en in 1958 is dit ‘n ereplek gegun in hulle kantore te Ashton. 

In 1965 is die stam aan die Universiteit van Stellenbosch geskenk; ‘n stuk boomstam sê een meter hoog met nog stukke wortels en drie arms en ‘n klein plaatjie waarop staan:

“Die Kakamasmoederboom in Februarie 1933 deur AD Collins gevind en deur die Langeberg Koöperasie aan die Universiteit van Stellenbosch geskenk”

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings: