Hier langs die rivier groei die olienhout, swartbas, haak-en-steek, dabbie (ook abiekwa genoem), swartebbe ens.
Swartbas
Haak en Steek
Olienhout
Ons dorpe word versier met die sogenaamde sierbome. Almal is mooi bome, skaduryke bome, maar nie bome wat respek afdwing nie. Hierdie harde barre Noordweste met ‘n somerson wat witwarm bak en winterryp wat onder jou voetsole kraak, hierdie wêreld vra ‘n boom wat sy man kan staan en so ‘n boom is die kameeldoring en die witgat en die kokerboom.
Kameeldoring
Die Kameeldoring (Acacia giraffae) is die vriend van die Kalahari en die aanwyser van die riviere wat nou as sandgevulde boomlope bekend staan. Die kameeldoring het met ‘n kameel niks te make nie, maar kry sy naam van die kameelperd.
Ons eerste kennismaking met die giraf dateer terug na 1760 toe die olifantjagter Jacobus Coetse in die omgewing van Warmbad (Suidwes) ‘n onbekende dier gesien het wat hy beskryf het as nie so swaar as ‘n olifant nie en met ‘n lang nek en hoë bene. Hy het ‘n kalfie vir 14 dae met semelwater aan die lewe gehou en toe dit vrek, die vel afgeslag en Kaap toe geneem.
Kameelperd
Op navrae aan Holland blyk dit dan dat die Romeine die dier al uit Afrika ingevoer het en die camelopardalis genoem het. Die volgende jaar, en wel op Maandag, 5 Oktober 1761, skiet Brink twee koeie naby Warmbad en praat dan ook van die kameeleopardali waarvan hy daagliks opmeting gee en noem dat die diere “meerendeels voedsel soekt aan de hooge roode houtbomen” maar wanneer die giraf op die gelykte vreet moet hy met sy voorlyf op sy knieë gaan lê. In die volksmond het die cameleopardalis verander na cameleopaard en kameelperd en die boom waaraan hy graag vreet het die kameelboom geword. Hier langs Grootrivier is die ouderdom van die geharde ou kameelboom nog onbekend, maar een landboukundige het wel die omvang van die stamme van bekende bome gemeet en so bereken dat van die groot bome op die eiland wel in die orde van ‘n 500 jaar oud kan wees wat dan beteken dat toe Jan van Riebeeck in die Kaap geland het was hierdie bome reeds sowat 200 jaar oud.
Skrywer hiervan het ‘n kameelboom met ‘n stam van 2,5 m omvang se jaarringe getel en ‘n ouderdom van 550 jaar bereken. Daar diep in Botswana by Bloedlekmond het die ou leeujagter Hendrik Matys by die stam van die ou groot boom gekrap en ‘n paar flenters houtskool gewys; dit was hulle kampplek en ‘n hemp aan die boomtop was die vlag waarheen die moeë jagter vanaand kom.
Gebreekte wa-aste, vellings, asse, is met kameelhout herstel. Die kameelboom het vir Korannaland en Basterland oorleef. Die boom is gehard teen droogtes, bestand teen ryp. Dis ons erfenis en dit maak seer as ‘n kameelboom vernietig word. Selfs die botaniese naam het die erfenis behou, acacia giraffae, giraffae van cameleopardalis, die kameelperd.
Witgat Boom
Die witgatboom staan wyd verspreid, maar dis weens sy buitengewone gehardheid teen droogte dat hy in die Noordweste as nog ‘n goeie boom gereken word; witgat hier langs Grootrivier en t’noenie in Namakwaland en Boscia albitrunca by plantkundiges. Boerbokke staan op hulle agterbene om so hoog moontlik die blaartjies by te kom en kou die gelerige bessies met ‘n krr-krr geluid. Inboorlinge het ook die frankerige bessie geëet en van die wortel ‘n versadigende pap gekook.
Onder die pionier blankes was witgat en koffie sinoniem. Die oudste hier langs Grootrivier vertel nog die verhaal van witgatkoffie in die armtyd. Dit was gewoonlik die werk van seunskinders, so word vertel, om in sanderige grond te soek vir ‘n boom met ‘n sappige wortel.
‘n Stuk wortel van so manslengte word uitgegrawe en huis toe gedra waar dit in gerieflike lengtes opgekap word. Sand en fyn worteltjies word met die knipmes verwyder sodat die bas mooi skoon is. ‘n Goeie wortel het ‘n harde pit met sagte vleis rondom.
Op ‘n sak word met die platkant van ‘n byl die veselrige vleis afgekap en dan slaan jy die sak toe sodat die vleis vir twee-drie dae kan sweet. Met sweet word bedoel die klewerige sap met ‘n sterk smaak wat afgeskei word en waarvan ook bierbrousel gemaak word.
Wanneer die vesel ‘n lekker soet smaak het is dit reg om oop in die son te lê en droog word, want hierdie houterige vesel is die koffie. Dit word maar soos koffiepitte in ‘n pot gebrand tot ‘n bruinerige kleur, afgekoel en is reg om gemaal te word.
‘n Mens maal hom ook maar in ‘n koffiemeul en werk hom maar in met die lepel se stert, en so al malende kan jy maar van die vesel kou en die pruimpie uitspoeg. Die poeier is nou koffie, hoewel die moer papperig is. Die koffie kan jou winderig maak en party mense het geglo dat dit jou oë aantas en vandaar die bietjie humor dat Jan leepoë het van witgat gedrink.
Wanneer die vesel ‘n lekker soet smaak het is dit reg om oop in die son te lê en droog word, want hierdie houterige vesel is die koffie. Dit word maar soos koffiepitte in ‘n pot gebrand tot ‘n bruinerige kleur, afgekoel en is reg om gemaal te word.
‘n Mens maal hom ook maar in ‘n koffiemeul en werk hom maar in met die lepel se stert, en so al malende kan jy maar van die vesel kou en die pruimpie uitspoeg. Die poeier is nou koffie, hoewel die moer papperig is. Die koffie kan jou winderig maak en party mense het geglo dat dit jou oë aantas en vandaar die bietjie humor dat Jan leepoë het van witgat gedrink.
Dit word vertel dat aan ‘n vreemde gas gewoonlik eers die vraag gestel is: “Neef, drink jy boom” Met os sonder sy grappies sal enige Noordwester sy witgatbome bewaar en beskerm vir die maer jare wat tog maar sal kom.
Kokerboom
Die naam Kokerboom dateer uit die dae toe die Boesmans die sagte pit uitgewerk het om pylkokers van die harder hout te maak. Aloe Dichotoma noem die plantkundiges hom omdat hy aan die aalwynfamilie behoort. Die kokerboom hou nie van die Kalahari nie, te veel sand, hy vra harde barre klipgrond. Die baba-kokerboompie, wanneer hy nog soos ‘n tweeblaarvetplantjie lyk, is seker die mees gesogte dis by die plantetende dier. In der waarheid proe die groter diere hom selde, want voëls en muise vreet hom stomp af wanneer hy nog net die blinkgroen stadium bereik het.
Jy kry dan ook net nie ‘n klein kokerboompie wat alleen staan nie, soek hom in ‘n platterige bos. As hy eers goed bitter is vreet geen dier die kokerboom nie, behalwe natuurlik die bobbejaan. Hy het mos die mode om die blarekroon te verrinneweer sodat hy die sagte wit gedeelte kan vreet en die orige smyt hy weg.
Vroeë reisbeskrywings meld soms hoe ‘n pad deur ‘n kokerboomwoud gekap moes word; vandag is sulke digbegroeide dele baie skaars. Die mens is stadig maar seker besig om die kokerboom uit te roei. In die heuwels van Freiersdale is op die hout van ‘n groot ou dooie boom ‘n ouderdomsbepaling gemaak, 150 jaar.
Ongelukkig vir hom tel sy horisontale wortelstelsel teen hom; net die geharde ou bome staan stewig, maar die jongeres kan jy wikkel-wikkel en omstoot en daar was die dae van kokerboomkrale, kokerboomhutte, kokerboomkoelers en dan by gebrek aan beesmis droë kokerboom vir die verhit en omtrek van wabande.
Goedbedoelende mense verplant jong bome en begaan die fout om hulle te diep te plant en aan die begin te veel water te gee. Die kokerboom hou daarvan dat sy wortels net onder oppervlakte moet wees en sy stam moet feitlik bo-op die grond staan om nie te vrot nie. Sy aanpassing by hierdie droë dele is net fantasties.
Kyk maar tussen droë verrotte blare in sy eie skadukol en daar is gewoonlik die fyn draderige massa wat ‘n mens aan klapperhaar laat dink – dis fyn worteltjies wat van ‘n hoofwortel af regop groei en onder die verrotte blare skuil. As dit reën loop die water teen die takke en stam af en word dan gulsig opgesuig deur hierdie fyn wortelmassa. En so ‘n jaar of wat nadat hy verplant is kan ‘n mens hom maar water gee, hy is eintlik oorgretig om te drink wat hy kry.
Rykdom word nie aan ons beursies gemeet nie, maar aan ons vermoë om te waardeer. Dis omdat ons nie hierdie mooi erfenis van ons waardeer nie dat ons arm is.
Rykdom word nie aan ons beursies gemeet nie, maar aan ons vermoë om te waardeer. Dis omdat ons nie hierdie mooi erfenis van ons waardeer nie dat ons arm is.
Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.
Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.
Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.
Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings: