Besproeiing & Upington verwante geskiedenis

Op 18 November 1966 het Mnr BJ Vorster net ‘n knoppie gedruk en ‘n rotsmassa is in die lug geblaas om die R500-miljoen Oranjerivierskema in beweging te bring. In kontras hiermee sien ons eerw CH Schröder op 15 Augustus 1883 die eerste sooi spit waar hy en ‘n groepie Basters met grawe en pikke die Upington-kanaal begin bou.

Hierdie werk wat later deur Theal beskryf is as die grootste van sy soort in Suid-Afrika was eintlik die begin van besproeiing langs die Oranje.

Sover bekend is die eerste besproeiings kanaal by die Bybelse stad Jericho gegrawe, 
sowat 7,000 jaar voor Christus. Die bewoners van Jericho het wonings van rou stene gebou waarvan die ouderdom 6,800 voor Christus bepaal is en hulle het ook ‘n graansoort gekweek wat met klipsekels afgeoes is. 

Omdat die Jordaanrivier nie vir grootskaalse besproeiing geskik was nie, is groter hoogtes langs die Nylrivier bereik waar teen die jaar 400 voor Christus besproeiing al in volle swang was. Die geskiedenis van Josef dui daarop dat daar langs die Nyl ook tye van droogte en vloede geheers het.

In Suid-Afrika was besproeiing nie ‘n belangrike onderneming nie omdat die pioniers eintlik veeboere was. Sendelinge het hulle wel beywer om hul gemeentes rondom die skool en kerk te hou en in hierdie opsig moet George Schmidt van die Morawiese Sendinggenootskap genoem word as die eerste sendeling wat by Baviaanskloof (later Genadedal) die eerste besproeiingspoging aangewend het. 

Schmidt het in 1737 in die Kaap aangekom, maar omdat hy vyf Hottentotte gedoop het, het hy in onguns gekom by die Politieke Raad en moes hy die land verlaat. Die eerste besproeiingstonnel is teen 1825 by Hankey langs die Gamtoosrivier gegrawe deur die Londense Sendinggenootskap en: “... a supply of water was obtained for the irrigation of a extensive tract of land”. (Theal)

Upington
Hier langs Grootrivier was die eerste besproeiingspoging seker Schröder se tuintjie net bokant die ou wabrug wat met emmers uit die rivier natgedra is. Tuinmaak moes ‘n heel patetiese gesig gewees het, want hy skryf van die Koranas as volg: “Het was een merkwaardig gezigt den tragen onhandigen swakken Koranas met de spade te zien werken. Howel ik het soms in den keel kreegt heeft de Heere my geholpen zoodat alles met het werken wel ging”. 

Die juiste datum van die aanlê van sy tuintjie is onseker maar hy noem dat die rivier op 24 Februarie 1872 so hoog was soos die Koranas dit nog nie gesien het nie en sy tuin was toe vir vyf dae onder water en sy patats en vrugtebome was heel onder slik begrawe.

Die volgende jaar, 1873, het kaptein Lukas ook al ‘n tuin gehad, maar die rivier het driemaal vloedhoogte bereik en hulle tuine verniel. In sy brief van 23 Augustus 1874 noem Schröder dat van sy kweper-, peer- en appelbome behoue gebly het, maar die vye-, perske-, appelkoos- en granaatbome is deur die vloed vernietig. 

Een mud koring is deur die Koranas gesaai terwyl hyself ‘n halfemmer gesaai het. Die volgende jaar, 13 Februarie 1875, verwys hy weer hierna en sê dat die Koranas 92 mud en hy 12 mud koring geoes het.

Dit was eers na die Tweede Korana-oorlog en toe eerw. Schröder van Witsieshoek af teruggekom het dat hy, met die kanaal op Upington begin het soos onder Deel III, 3, beskryf is. 

Hierdie grootste monument tot sy gedagtenis het hy feitlik man-alleen aangepak om die lewensbestaan van sy gemeentelede te verseker. In die begin het die werk maar stadig gevorder. Plek-plek het die voor deur rotse en klipperige grond gegaan. 

Eerw. Schröder was die spil waarom alles gedraai het: “Ik heb een zeer groot werk begonnen; op mijne schouderen rust het en uitvoer bringer van het werk. Ik moet dagelijks in die hitte der zon bij het werk blijven om verschillende redenen ... Het werk is ver van die statie begonnen. Het heen en weer gaan moet ik op allerlei wijse doen – te voet, te paard, per ossenkar en per ossenwagen”. 

Na twintig maande kon die eerste voor – sonder enige skuld – met ‘n groot dankfees op 2 Mei 1885 in gebruik geneem word. Hier het besproeiing langs Grootrivier begin en Suid-Afrika is dank verskuldig aan ‘n sendeling en ‘n klompie Basters.

Privaatondernemings
Dit is onseker of Robbie Frier (of Fryer) sy klein kanaaltjie voor eerw. Schröder begin het. Frier was ‘n Kanadese matroos wat op Friersdale met ‘n Bastervrou saamgeleef het. Daar het ‘n Fryer in die Korana-oorlog geveg en heel waarskynlik was dit dieselfde persoon wat daarna vir hom die Bastervrou gevat het sodat hy ‘n plaas kon kry. 

Op ‘n rou baksteen in sy huis het die datum 1883 gestaan wat beteken het dat hy in 1883 stene gevorm het om die huis te bou en sy kanaal het vlak voor sy huis verbygegaan. Toe Farini hom in 1885 besoek het, was daar ‘n groot tuin en landerye en hoewel hy hom veral op die kweek van tabak toegelê het, het hy ook vye, perskes, appels, pere, turksvye, koring, mielies, kool, waatlemoene en druiwe geproduseer. 

Van eerw. Schröder het hy die wingerdstokkies gekry en hoewel Schröder so vreeslik gekant was teen drank het Frier tog later baie witblits gestook en in Betsjoeanaland vir die beeste gaan verruil.

Sover bekend was Koos Strauss van Vaalkoppies die eerste persoon wat ‘n kunsmatige damwal gebou het; kanale het tot hier toe agter natuurlike rotsriwwe begin. JC Strauss het van Wilgerbos, Calvinia, getrek en twee van sy seuns, Hendrik en Jacobus, het die plase Wegdraai en Vaalkoppies gepag.

Jacobus, later beter bekend as Oom Koos, het met Anna Basson van die plaas Rugseer, Kenhardt, getrou en vir tien jaar in die paalhuis op Vaalkoppies gewoon. ‘n Tipe hartbeeshuis van pale, riet en klei. 
Hartbeeshuis voorbeeld van die weskus
Hy het ook vir eerw. Schröder by die kanaal gehelp, ondervinding opgedoen en ook ‘n erf aan die noordekant regoor Vaalkoppies bekom. Teen £5.0.0 per morg het hy nog erwe van die Basters gekoop en ook hier kom woon sodat sy kinders die skooltjie by Keidebees kon bywoon. 

In 1897 trek hy terug na Vaalkoppies om die plaas van 18 000ha te bewerk. In 1890 het die landmeter Bain al vir hom ‘n paar bakens gepak vir sy beplande damwal en kanaal wat by Gifkloof sou begin. 

In 1916 was sy seuns, Koos en De Wet, al mans genoeg om die taak aan te pak terwyl ‘n kleurling, Koos Hoff, met sy plofstoflisensie die skietwerk kon doen. Hulle het sommer die damwal en kanaal gelyktydig aangepak, ‘n klipwal sowat twee meter hoog en 250 treë lank in die rivier in. Die idee was dat die klipmuur sou toeslik om ‘n lekker sterk wal te vorm. Op 22 Augustus 1918 het die water die onderent van die kanaal bereik waar 600 morg (sê 500ha) besproei kon word.

By eerwaarde Schröder het Oom Koos geleer hoe om die waterpas en reihout te gebruik, maar het daarop verbeter deur die waterpas op ‘n drievoet te monteer. Sy wal was egter te kort en te swak om die waterdruk te weerstaan en toe bou hy ‘n 750-treë lange betonwal net agter die klipwal. 

Vir hierdie doel moes die sand en sement met pakdonkies aangebring word en waar die graaf en kruiwa nie kon haal nie, is ‘n borrie gebruik. Die borrie wat later ‘n baie belangrike werktuig hier langs Grootrivier sou word, het bestaan uit twee lang pale met ‘n beesvel wat soos ‘n sak gehang het. Twee arbeiders kon so ‘n borrie vol beton van die aanmaakplek na die werkplek dra. 

Hy het die aanleg Straussburg genoem, erwe aan armes verkoop, grond beskikbaar gestel vir ‘n kerk, ‘n skool en ‘n sendingkerkskool, en Straussburg het sy eie besproeiingsraad gehad totdat dit later deur die Waterwese oorgeneem is.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings:
Boegoebergdam en kanale - ons onthou jul opofferings