Dis nog donker wanneer ek die geskuifel van my ma se pantoffels oor die linoleum tapyt in die eetkamer hoor. Ek is nog nie in die ware sin van die woord wakker nie. Eerder ‘n toestand waarin ek gebeure kan waarneem met kennis van die verlede en klein geluidjies wat ek oor jare leer ken het.
Ek hoor Ma se doenigheid in die kombuis. Die spiritus-botteltjie wat oopgeskroef word, die asbesaansteker wat daarin gedoop en om die primusstofie se brander gehaak word.
Dan die kras van ‘n vuurhoutjie wat vertel dat die spirits aan die aansteker aan die brand gesteek word en die vlam wat blou brand en die primuskop verhit. Ooi! daardie bekende reuk van spirits vroeg in die more wat so hang in die kombuis en as Ma die piet-fluit volmaak, maak die water so ‘n sing geluid.
Ek trek die komberse hoër op en verlustig my in die salige gevoel van geborgenheid met die bekende ritueel wat besig is om in die huis en op die plaaswerf af te speel.
Dis Maandagoggend, die eerste werksdag van die lang Desember vakansie en hoewel ons elke ses weke met uitnaweke op die plaas kom, is vakansie hier heel iets anders. Nou word ons deel van die lewe en bedrywighede op die plaas.
Ek hoor die getwiert .. twiert .. twiert, soos Ma die primusstofie pomp en na ‘n rukkie die geblaas van die vlam onder die piet-fluit.
Die agterdeur gaan oop en ek weet Ma is besig om hout uit die krat op die stoep te haal vir die koolstoof en as ek die skuifgeluid hoor soos Ma die stoofplaat eenkant toe skuif, weet ek, nou is Ma besig om koerantpapier in bolletjies te druk en dit onder in die vuurkas te sit voordat fynhoutjies bo-op gepak word en dan laaste die houtstompies. Die stoof se demper word toegeskyf totdat die vuur goed op dreef is.
Pa sluit hom by Ma in die kombuis aan. Klaar aangetrek met gabardine langbroek en kakiehemp, gereed vir die dag. Ek hoor Ma vra dat Pa tog die primusstofie moet “prick” want die ding stotter vanoggend. Sy vermoed die nippel is half toe.
Die radio word aangeskakel en “Flink uit die Vere” se bekende Penniefluitjie Kwêla speel luid oor die radio met Fanus Rautenbach wat die nuwe week aankondig.
So deur die slaap hoor ek die piet-fluit se lang fluit en die reuk van vars gemaalde koffie vul die huis soos 'n golf wanneer die kookwater die moerkoffie in die ou geel ketel tref.
Daar is so ‘n stilte en ek weet dis omtrent nou die tyd dat Pa in die groot stoel met armleunings voor die stoof sal gaan sit met ‘n beker koffie en dan sal hy met sy rokers ritueel begin. Die pyp word eers in die stoof uitgekap, die steel uitgetrek en die pypolie word in die vuur uitgeblaas en dan begin die proses om die pyp tydsaam en ingedagte te stop terwyl hy sy monoloog hardop begin oor wat hy vir die week beplan.
Ma luister in stilte terwyl sy met haar takies besig is.
“Die laaste ertjies in die holland anderkant die ligwal moet hierdie week gerol word en die seuns gaan die ertjies op die trap met die wa en trekker uitry.” "Ek wil die eerste ertjies by die dorsvloer begin trap en dan uitwan.” “Die haan het middernag gekraai, so die wind gaan vroeg begin stoot.” borduur hy voort.
In my geestesoog kan ek sien hoe hy die pyp met 'n houtjie uit die stoof aansteek en eers ‘n paar kort trekke vat en dan een diep intrek en behaaglik in die stoel terugleun.
Pa moes ook ou Jacob se kuggie by die agterdeur gehoor het, want ek kan die geklingel van die melkemmers hoor as Pa dit uit die spens haal en sommer deur die kombuisvenster vir hom aangee. Oor Pa se skouer herinner Ma, soos omtrent elke dag, “ Jacob maak tog seker dat jy die melkdoek goed om die emmer vasbind voordat jy die melk oorgooi, en sorg tog dat jy later die kalwers afhok anders suip hulle weer die koeie uit.”
Op die houthoop is die ander werker besig om onder mekaar te skerts en beurte maak om vir Ma hout te kap, en dan hoor ek Pa se voetstappe wat oor die stoep aangestap kom. Hy gaan vir ‘n oomblik in die kamerdeur staan en kyk na waar ons nog knus onder komberse lê, “More Boetas, julle moet nou maar opstaan, ek dink jul vakansie is verby”, sê hy glimlaggend.
En so begin ons Desember vakansie op die plaas in 1959.
Hierdie skets is my poging om my herinneringe van lank gelede neer te pen, en moontlik kan baie hulle vereenselwig met ‘n tyd toe daar nog meestal met ertjies, wit-boontjies, mielies en lensies langs die Grootrivier geboer was.
Toe almal nog beginner boere was en byna elke skemahuisies bewoon was. Ek het ook terme gebruik wat miskien in onbruik geraak het of miskien weet mense nie die oorsprong daarvan nie.
• Piet-fluit
• Linoleum tapyt
• Primuskop
• Asbesaansteker
• “prick”
• Nippel
• Holland
• Ligwal
• Trap
• Uitwan
• Melkdoek
Deur: Wollie Burger