Rebelspoor - Die ware bittereinde (Kakamas)

“SÓ HET DIE OORLOG GEËINDIG..."
(Die ware bittereinde - nié 1902 nie maar 1915)

106 jaar gelede, begin die naskokke van die Boereopstand. Wat hieronder volg, is direk uit my boek, Rebelspoor, aangehaal. Na aanleiding hiervan het ek die boek opgedra aan die Afrikanervrou vir haar durf en deursettingsvermoë gedurende hierdie bittere tyd in ons volksgeskiedenis.

Op Kakamas sit Nelie Stadler op 'n stoel voor die agterdeur en aartappels skil, toe 'n "Kakie" (Uniesoldaat van Louis Botha en Jan Smuts) op die werf stilhou.

Sedert die Stadlers se huis einde Oktober 1914 deur die Unietroepe geplunder is, al die pluimvee op die werf doodgemaak is en hulle op 'n donkiekar met net 'n paar besittings gelaai is, woon Nelie en haar sewe kinders nog die hele tyd by haar ouers op Kakamas. 

Die erf is toegespan en daar is permanent wagte aan diens wat 'n ogie oor hulle hou. Die kinders kan nie skool toe gaan nie en niemand mag “die kamp” sonder 'n pas verlaat nie.

Die “Kakie” hou 'n lang koevert na Nelie Stadler uit. Toe sy die koevert by hom neem, lag hy en sê vir haar: “Ek kom net vir jou sê jou man is doodgeskiet.”

Die geskokte Nelie lees die brief, los dit net daar en storm die huis in. Geen “Kakie” sal die voorreg hê om haar smart te aanskou nie. 

Aan die begin van die opstand het sy haar jongste seuntjie – ook Albert – aan die dood afgestaan. Nou, reg aan die einde, is dit haar man. Buite tel Johan, die oudste kind, die brief op en lees dit vir sy jonger boetie en vyf sussies. Hulle het nie meer 'n pa nie. Hy is deur die “Kakies” by Upington doodgeskiet.

Later, “na die vrede”, kom Christiaan Joubert, Albert Stadler se adjudant, eendag by Nelie en die kinders aan. Hy bring vir hulle kommandant Albert Stadler se baadjie. Aan die agterkant, net bokant die soom, is daar 'n koeëlgat. Joubert dra ook sy kommandant se laaste boodskap aan sy vrou Nelie oor: “Maak die kinders goed groot”.

“Só het die oorlog geëindig,” onthou Dedrieka, Stadler se oudste dogter.

Sy skryf: “Ma en ons is toegelaat om terug na ons huis te gaan op Kakamas-Wes, wat later die naam Truter gekry het. Van die vensters en deure was uitgebreek. Die traporrel het nog in die huis gestaan. Die boonste deel met die spieël was afgebreek en van die bure het vertel dat emmers water van bo af op die orrel ingegooi is. 

Baie van ons meubels wat aan ander mense gegee is, is vir ons teruggegee en hier en daar waar ma iets van ons gesien het wat sommer buite by mense gestaan het, het ma dit gaan terugvra. 

Boetie was toe 15, Kleinboet 13, ekself 11, Stienis 9, Baby 7, Bertha 5 en Nassie 4.”

“Ma het van dié dag af self die erf, ongeveer 8 morg, begin bewerk. Met 'n saaisak om haar skouers, sien ek haar in my gedagte, soos sy die koring saai...”


Deur: Louis Bothma
Verwysing: Dankie Wollie Burger vir die verwysing na hierdie tragiese storie.
Saamgestel deur: Johan Swart
Kyk gerus uit vir die boek "Rebelspoor" deur L.J.Bothma